 |
Die eerste vryheidsoorlog begin in Desember
1880 nadat Brittanje die Transvaal
geannekseer het. Nadat die boere
Generaal-majoor Sir George Pomeroy Colley se
magte verslaan het by Laingsnek en
Schuinshoogte, besluit hy om Majuba te beset,
vanwaar hy die pas kon beheer en kon neerkyk
op die Boere se stellings by Laingsnek.
Die Britte het die berg gedurende die nag van
26 Februarie uitgeklim. Daar was 405 Britse
soldate op die berg. Die Gordon Highlanders
het die noordelike en noordwestelike kruin
beset, asook Gordon se koppie, een van drie
koppies bo-op Majuba.
Daardie Sondagoggend het die Boere onmiddelik
nadat hulle die Britse soldate op die berg
gesien het, planne beraam om dit te bestorm.
Generaal Nicolaas Smit, die bevelvoerder, het
vrywilligers gevra en drie afdelings is
gevorm onder leiding van kommandant Joachim
Ferreira, assistent-veldkornet Fanus Roos en
assistent-veldkornet Danie Malan.
Generaal Smit het opdrag gegee dat die manne
bo 50 agter die rotse van die eerste plato
moes bly skuil en na elke Engelsman wat sy
kop oor die boonste rand uitsteek, moes
skiet. Dit het dit moontlik gemaak vir die
res van die Boere om onder vuurdekking tot
reg onder die kruin te kom, wat hulle net
voor die middaguur, na 'n klim van ses uur,
bereik het.
Intussen het Colley opdrag gegee dat die berg
vir ten minste drie dae verdedig moes word en
het hy en baie van die troepe wat dwarsdeur
die nag die berg uitgeklim het, verlore slaap
ingehaal.
Teen 12:45 het die Boere met hewige
geweervuur op Gordon se koppie losgebars en
dit verower. Gedurende die volgende uur, het
die Boere oor die kruin gestroom en die
Britte met akkurate skietwerk groot veliese
toegedien. Daar was groot verwarring en die
Britte het na die suidekant van die bergtop
begin vlug. Generaal Colley is bokant sy
regteroog raakgeskiet en is op die berg
oorlede. Die res van die Britse mag het oor
die agterste kruin gespring en is beseer,
geskiet of gevange geneem.
Van die Britse soldate het 92 gesneuwel, 134
is gewond en 59 is gevange geneem. Slegs een
van die Boere (H Bekker) het daardie dag
gesneuwel ('n tweede een, J Groenewald, het
later aan sy wonde beswyk) en ses ander is
gewond. Dit toon die verskil tussen die
Britte en die Boere se kamoeflering en
skietvernuf.
Die veldslag het daartoe gelei dat die Britse
bevelvoerders op 21 Maart 1881 'n
vredesooreenkoms geteken het. Tags : Short Film |